Posted on

‘n Babelse Verwarring: Is dit Kruie, Speserye of Geurmiddels?

kruie en knoffel
kruie en knoffel

Baie mense onderskei tussen kruie, speserye en geurmiddels.

Kruie

Kruie is die aromatiese blare en blomme van plante wat vars of gedroog gebruik word om disse mee op te kikker. Goeie voorbeelde is basiliekruid, tiemie en roosmaryn. Die raklewe van die meeste gedroogde kruie is heelwat korter as die van speserye. Die meeste kruie word eerder vars as gedroog gebruik.

Speserye

Speserye verwys na sade, bas en wortels wat meesal gedroog gebruik word. Hul raklewe is aansienlik langer as die van kruie. Goeie voorbeelde van elk is peper (saad), peperwortel (wortel) en kaneel (bas).

Geurmiddels

Geurmiddels is produkte wat dikwels soos kruie gebruik word maar wat voedselsoorte in eie reg is soos byvoorbeeld neute, sitrus en uie.

‘n Babelse Verwarring

Soms raak die onderskeid ‘n bietjie verwarrend. Neem byvoorbeeld peperwortel. Volgens bogenoemde is dit ‘n spesery. Maar dit kan ook as ‘n voedselsoort voorberei word. Ander goeie voorbeelde is knoffel en uie.

Dan is daar ook nog ‘n hele aantal plante wat beide kruie en speserye is, want ons gebruik die blare vars of gedroog en ons gebruik ook die sade. Dink maar aan vinkel, dille en koljander.

Ek steur my nie veel aan die semantiek en al die ingewikkelde klassifikasies nie en gebruik die term kruie losweg om na enige iets te verwys wat my help om my doel te bereik – goeie reaksies aan die etenstafel.

My advies aan jou…

Onderskei as jy moet. Maar moenie toelaat dat dit jou moontlikhede beperk nie. Wanneer ons in terme van kosmaak met kruie praat maak dit werklik geen verskil of vinkel ‘n spesery of ‘n krui is nie. Dis bloot semantiek. As ek weet hoe om dit reg te gebruik bly die smaak en effek mos dieselfde.