Posted on

Kook met Smeerwortel

smeerwortel plant in blom
Gebruik altyd jong smeerwortel blare. Dit is bedek met fyn haartjies wat hard en onsmaaklik word as die blare ouer word.

Smeerwortel (Comfrey – Symphytum officinale) is nou wel nie een van die mees aromatiese kruie nie, maar die uitsonderlike mediese eienskappe en hoë proteïeninhoud maak dit ‘n baie gewilde krui by kruiedokters. (Read this comfrey article in English.)

In die eetbare plant wêreld is dit net ‘n kortkop agter sojabone betreffende proteïeninhoud. En dit het geen gelyke as ‘n geneesmiddel vir vel probleme, beserings, spier- en skelet pyn, en ontsteking nie.

Dit word ook hoog aangeskryf deur organiese kos tuiniers vir die maak van kompos, groen bemesting en as ‘n deklaag in die groentetuin. En deur veeboere as ‘n hoë proteïen veevoer.

Wenke vir Kook met Smeerwortel

Smeerwortel is ‘n lid van die bernagie-familie (borage familie) en die blare het dieselfde effense komkommer smaak as komkommerkruid. Die blare is ietwat bitter en die bitterheid is meer opvallend as dit oorgaargemaak is.

Sommige kokke beweer dat as smeerwortelblare korrek gaargemaak word, dit amper soos andyvie en aspersies proe. Ek stem heelhartig saam dat mens bietjie moeite moet doen met die voorbereiding, maar ek kan nie juis sê dat my smeerwortel geregte al ooit soos aspersies geproe het nie. Miskien het my palet net meer oefening nodig.

Mens gebruik slegs die sagte jong blare in geregte. Smeerwortel blare is bedek met fyn haartjies en dit word baie hard en onsmaaklik as die blare ouer word. Spoel altyd eers die blare onder koue water, droog af, en berei dan voor soos die resep aanbeveel.

Soos spinasie, is dit maklik om smeerwortel oorgaar te maak. Dit smaak ook nie waffers rou nie. Dus moet mens maar wakker wees wanneer jy daarmee kook. As ek moet kies, kies ek eerder nog effens rou, as oorgaar.

Smeerwortel kan voorgesit word as ‘n voorgereg (dit maak redelik wafferse poffertjies), sop, of as ‘n bykos. My moeder maak ‘n heerlike smeerwortel marog. Jy kan smeerwortel ook saam met ander groentes kook en dit werk ook goed in bredies. Dit is ook ‘n voedsame toevoeging tot groentesappe.

Pietersielie, sitroenkruid, kruisement, en karwei saad werk almal goed saam met smeerwortel.

As jy bekommerd is oor die veiligheid van smeerwortel kan ek jou die versekering gee dat dit nie so ‘n smaaklike groente is, dat jy jou elke dag daaraan sal wil ooreet nie. Dit is nogtans ‘n goeie idee om my artikel oor die veiligheid van smeerwortel te lees. (Jammer, maar dis in Engels)

As jy hierdie artikel geniet het, deel dit asseblief met jou Facebook en Twitter vriende. En deel gerus ook jou idees en gedagtes hieronder. Moet ook nie vergeet om die resep ‘n sterretjie of twee te gee nie.

Kook met Smeerwortel
 
By:
Serves: 4
  • 1 eetlepel botter
  • 1 ui, in skywe gesny
  • 1 groot aartappel, geskil en in klein blokkies gesny
  • 4 koppies fyn gekapte, jong smeerwortelblare
  • 2 koppies aftreksel (groente, hoender of bees)
  • ½ koppie melk
  • Marmite of sojasous na smaak
  • Sout en peper na smaak
  • Gekapte pietersielie vir garnering
  1. Smelt die botter in ‘n soppot en kook die ui liggies daarin tot sag.
  2. Voeg die aartappel by en soteer vinnig.
  3. Gooi die smeerwortelblare by die aartappel en soteer vir nog 'n paar minute.
  4. Voeg aftreksel by, bring tot kookpunt en prut stadig tot die groente sag is.
  5. Maak die aartappels fyn met ‘n vurk of aartappelfynmaker, of in 'n voedselverwerker.
  6. Verhit die melk en voeg by die sop. Roer deur.
  7. Geur na smaak met marmite (of sojasous), sout en peper.
  8. Garneer met gekapte pietersielie en bedien met roosterbrood.